Die immergroen kitaarvirtuoso en rockmusikant, Mel Botes, het onlangs een van sy mees ambisieuse projekte geloods met die produksie VUUR SEISOENE by Aardklop 2011. Botes, een van ons land se mees produktiewe musikante, wat gehore steeds landwyd aan die gons het met sy vertonings Crazy Diamond - A Tribute to Pink Floyd; Davids Confession, About Time Chapter II en Sultans of Swing - A Tribute to Dire Straits, het reeds vir n geruime tyd sy bewondering uitgespreek vir die klassieke meesters en veral sy voorliefde vir Beethoven, n persona waarmee hy sterk vereenselwig. Volgens Botes self was die produksie by Aardklop slegs n voorsmakie van die hoogtes waartoe hy hierdie musikale verwerkings wil neem.
Die produksie bied alles wat ons geleer het om van hom te verwag: daardie kenmerkende klank van sy Fender kitaar, n groep uitgelese musikante insluitend die pianis Johan Kelber, Charles Geer op bass en Rohan Blignaut op dromme tesame met watertand audiovisuele materiaal en hipnotiserende beligting.
Die produksie word in vier bedrywe aangebied waarvan die eerste een, getiteld Onsterflike beminde en gebaseer is op die passie en die tragedie van die komponis Ludwig van Beethoven. Dit volg die verhaal terugskouend vanaf die dood van Beethoven na die groot werke wat hy gekomponeer het. Die onsterflike beminde is natuurlik die enigmatiese minnares waaroor daar al dikwels gespekuleer is. n Ou musikale vriend van Botes, die rocklegende Piet Botha speel die rol van Beetwhoven op die klankbaan.
Die tweede bedryf, getiteld Die jaargetye is baseer op die werk van Antonio Vivaldi en volg die metafoor van die lewe as seisoene, en hoe liefde en religie hierin voorkom. Botes het alreeds vir n geruime tyd te kenne gegee dat hy graag hierdie musiek wou speel en doen dit nou vir die eerste keer voor n gehoor.
Die derde bedryf, getiteld Die dekadente klein mannetjie neem die produksie na n nuwe dimensie deur die werk van Wolfgang Amadeus Mozart op te dis in n speelse, verleidelike manier. Mozart word uitgebeeld as n dekandente en diaboliese karakter wat dikwels onnutsig en humoristies te werk gegaan het.
Die laaste bedryf, getiteld Blomme van onheil, neem die verhaal verder deur die musiek van Johann Sebastian Bach uit te brei en die simboliek van lig en donker te ondersoek, veral deur musiek soos die beroemde Toccata en Fugue op n vlak uit te voer soos nooit voorheen nie. Botes is soos altyd, nie bang om grense te skuif en heilige koeie aan te durf nie en vermeng selfs van sy eie oorspronlike musiek in die produksie. Alle verwerkings van die musiek is Botes se eie.
Moenie dit misloop nie hierdie is een van die mees grensverskuiwende produksies wat gehore ooit sal sien.